Thursday, October 2, 2008

Om te glo...


(Hierdie inskrywing kom net so van my ander blog af, maar omdat ek nie weet hoe lank daardie blokkie nog gaan hou nie, sit ek hom ook hierdie kant op.)
'n Baie onlangse inskrywing van een van my gunsteling bloggers het my by hierdie vraag laat uitkom. Ek gaan doelbewus nie link of die naam noem nie, want ek wil nie haar blog verder besoedel hê nie. (En asseblief dit het niks te doen met iemand wat oor wetenskap blog of oor 'donker' skryf nie!!!!)


Wat glo ek en hoekom glo ek... Dis eintlik bitter eenvoudig. Ek is een van daardie gelukkige/ongelukkige- mense wat iets kan glo sonder om dit te sien. Ek kan kies om iets te glo en daarby bly ten spyte van wat ander my probeer oortuig. Ek kies om in God te glo, ek kies om in sy Almag te glo, ek kies om in die Ewige lewe te glo... sonder bewyse... Ek kies om in die Bybel te glo, omdat ek WIL.


Ek kies om in die mooi goed van die lewe te glo... Vriendskap, Vreugde, Vrede, Verdraagsaamheid - al bewys die wêreld daagliks die teendeel. Ek kies om te glo dat die lewe goed is. Dat daar nog mense is wat omgee en saamstaan. Ek kies om te glo in goeie huwelike, wat hou 'till death do us part' al bewys die samelewing daagliks die teendeel. Ek kies om te glo dat daar in die donkerste omstandighede 'n helder lig net om die hoek skyn. Ek kies om te glo dat mense inhirent goed is, ten spyte van die verkeerde dinge wat hulle aanvang. Ek kies om te glo in 'n toekoms vir my kinders.


Ek is ingestel daarop om eerder die pragtige waterval as die dooie vis raak te sien. Ek is ingestel om eerder die kleure van die sonsondergang as die lugbesoedeling raak te sien. Ek verjeug my oor elke babatjie wat gebore word eerder as om te kwel oor wat van die arme mens gaan word....
Miskien is ek naief, maar ek sal wragtig nie toelaat dat die negatiewe samelewing of die wetenskap my van my lewensvreugde beroof nie. Ek kies om aan die 'nice' dinge in die lewe te glo. Ek is opgewonde as argeoloë beweer hulle het iets ontdek... Nie omdat dit vir my iets bewys nie, bloot omdat dit interressant is. Geen ontdekking van 'n ark of 'n stad of 'n grot of 'n kruis 'for that matter' gaan 'n verandering in my geloof teweeg bring nie, maar dit is eenvoudig vir my 'amazing'.


Maak dit van my 'n slegter, dommer, eenvoudige mens.... Ek glo nie. Dit maak bloot my lewe interressant, my hart gelukkig en hou my vlammetjie aan die brand.


Ek skryf nie hierdie dinge om 'n vreeslike argument aan die gang te sit nie, ek skryf dit nie eers om kommentaar te hoor nie, ek skryf dit bloot omdat ek wil. Ek wil nie van die teendeel oortuig word nie, so asseblief moenie 'n slagveld van hierdie post maak nie. Ek is versot op vrede.... Ek is versot op die mooi dinge in die lewe en meer nog ek kyk deur 'n rooskleurige bril na die lewe.


Beteken dit dat ek nog nooit die donkerkant van die lewe gesien het nie. As julle dit glo het julle nie 'n idee nie. Ek kan insetsels uit my lewe vertel wat mense se hare sal laat regop staan, juis daarom of miskien as gevolg daarvan, of moontlik omdat hierdie dinge in my lewe gebeur het en ek moes kies om 'n rassionele, denkende, 'normale' mens te bly glo ek in dit wat mooi is. Ek is nie onnosel nie, ek weet ons lewe nie in 'lala-land' nie. MAAR weereens ek KIES om die mooi raak te sien, om my kinders van feëtjies en kaboutertjies te leer, om hulle te laat glo in Kersvader en die tandemuis, om hulle die mooi kant van die lewe te wys en dan wanneer die tyd reg is, hulle te lei en te leer dat hulle ook kan kies om positief te wees ten spyte van die gebroke, afskuwelike wêreld waarin ons bly...


1 comment:

Muriel said...

Nou hoekom sal daardie ander blog nie hou nie!! *Evil* Jy sms my dadelik as iemand met jou mors!! Wipneus sal my oupa se rooibaadjie aantrek en my ou sanna gryp!!!

Hierdie was 'n baie mooi inskrywing Pikkie! Presies soos ek voel, niemand en niks kan tussen 'n mens en sy geloof kom as dit op sterk fondamente staan nie.

Ek raak ongelukkig/gelukkig nooit in Godsdienstige gesprekke op wordpress betrokke nie.

Die algemene gevoel is mos, as jy agter 'n teleskoop klim, glo jy nie. Wel ek het nuus vir enige mens!!! Agter die teleskoop is ek baie, baie naby aan my skepper, want hy het pragtige wonderwerke geskep! Dis asemrowend en slaan mens se asem weg.

As jy die heelal sien, kan jy nie anders nie! Jy moet en sal glo. Ek sal enige ateis bekeer agter my teleskoop!

En "that's all I've got to say about that" ;)