Sunday, October 5, 2008

Normaal


Wanneer is iemand normaal? In ons samelewing word iemand met 'n gebrek gewoonlik geklassifiseer as abnormaal, maar tog wonder ek of dit nie dalk daardie mense is wat die normaalste van ons almal is nie. Ek kyk na die wêreld om my en ek sien bitter baie lyding. Daar is mense met fisiese gestremdhede wat dit moeilik vind om net te praat of te hoor of selfs om so 'n simpel ding te doen soos om toilet toe te gaan. Dan is daar mense wat so afgetakel word deur 'n siekte of siektes en ook nie al die 'normale' dinge kan doen nie.

Daar is mense wat se psige versteurd geraak het. Mense met 'sindrome' en dies meer wat nog nooit en ook nooit sal 'n 'normale' lewe leef nie. Grootmense wat vasgevang sit in 'n kinderverstand. 'n Nabye familielid het Outisme. 'n Pragtige meisiekind van sestien wat die verstand van 'n 4 of 5 jarige het. 'n Ouer wat die res van haar lewe haar baba moet versorg. En haar dan nog moet bekommer oor wat van haar baba gaan word as sy die dag nie meer daar is nie. 'n Ouer wat self aan spierdistrofie ly en party dae nie eers haar arms kan oplig nie, wat nog te sê haar 16 jarige kan help aantrek, hare kam, tande borsel, en gereed kry vir skool.


Waarby ek eintlik wil uitkom en wat vir my bitter opvallend is, is die feit dat dit juis hierdie mense 'n wat 'n lewensvreugde, 'n dankbaarheid uitstraal wat my, my kop in skaamte wil laat sak. Ek sê nie almal nie, ek sê die meerderheid. Dis asof God hulle met die gawe van blymoedigheid in die hoogste graad geseën het. Ja, hulle beleef ook hulle donker tye, maar dit is asof daar altyd 'n vlammetjie in hul lewens brand.

Uit hierdie mense se lewens het ek al die mooiste musiek, die pragtigste gedigte, die lieflikste skilderye gesien. God het nie vir hulle halwe gawes gegee nie, hy het hulle volluit geseën!!

Hierdie is van my skilderye wat ek by so 'n baie spesiale persoon gekoop het. Ek maak 'n punt daarvan om as ek iets nuut wil hê en ek het 'n los geldjie, altyd by haar te koop. Sy het so 8 jaar gelede 'n verlammende beroerte gehad, maar het iets van haar lewe gemaak. Thanx Nicky...






(Ek kannie eers ordentlike foto's geneem kry nie.... )

Hier het ek nog 'n dame raakgelees wat die allermooiste gedigte skryf. Sy het 'n skryftalent sonder weerga, haar eerlikheid bring trane in my oë en ek gaan soek daagliks daar om te kyk of sy nie dalkies nog ietsie bygeskryf het nie. Syself ly aan Spierdistrofie.


Hier is so ietsie van haar blog af: (Zonika, vergewe my asseblief die plagiaat...)



Ek het die lewe tegemoet geloop
met agtienjarige alwetendheid
ʼn sak vol drome
en woelende ongeduld

Ek het die lewe uitgedaag
met jeugdige onbesonnenheid
al sy ure kaal gestroop
en hom móég geleef

En nou in my grysheid
by kalme waters en sielerus
is dit my herinneringe
wat brandhout teen die winter is


Hiermee bring ek dan hulde aan al daardie spesiale mense wat te goed doen en is om 'normaal' te wees. Ek buig laag, kap my hakke teen mekaar en saluut julle! Mag God in sy Almag en Genade julle moeilike paaie met die geur van roosblare verfris...




5 comments:

Muriel said...

Pikkie jy het 'n hart van goud!!

Pragtige gedig en baie mooi skilderye.

Anonymous said...

Pikkie ek wil ook weet wat's "normaal" Hou van die gedigte.

Anonymous said...

Pikkie, jou blik lyk oulik jong!!

Ja, Zonika skryf baie mooi nê!!

Charmaine said...

Ek het so leker gelees aan die blog van jou Pikkie. Ons het regtig heeltemal die verkeerde idee van normaal wees want ons kyk nie met die oe van ons siele na mense nie.

Sonja said...

Hallo Pikkelik
Ek is bly om jou te ontmoet!Ek het self n seuntjie wat autisties is en my oudste het vermoedelik ook n ligte graad van autisme.Dis nog n redelike nuwe pad vir ons en ons voel soms maar lekker alleen. Bly daar is iemand wat begrip toon!
Groete
Sonja