Thursday, September 25, 2008

Vreemde tye


Soms kom daar vreemde tye in ons elkeen se lewens.  Kruispaaie, stopstrate, selfs robotte en dan moet jy besluite neem...  gaan jy links, regs of reguit aan en in sommige omstandighede sal jy maar jou motortjie in trurat sit en maar teruggaan van waar jy kom?

Persoonlik voel ek dat ek op hierdie stadium van my lewe heeltemal genoeg kruispaaie gehad het.  Genoeg kere het ek my kaduks teen mure vasgeloop, genoeg kere het ek my flenters geval, genoeg kere het ek in gedaanstraat gesit.

In retrospek besef ek dat elke aksie wat ek neem gewoonlik 'n reaksie het.  Ek glo dat 'n mens nogal die negatiewe dinge wat in jou lewe gebeur oor jouself bring.  Ek glo dat dit besluite is wat jy teen God se wil neem is wat jou in die warmwater laat beland.  Dit is wanneer ons die paadjie wil loop wat nie vir ons bedoel is nie, hoe goed ookal jou oorspronklike intensies was, dit was nie wat vir jou bedoel was nie.

Nou hoe weet 'n mens dan ooit of jy die regte besluite neem?  Hoe kan jy ooit seker wees dat jy die 'regte' ding doen?  God gooi tog nie vir ons briefies deur ons slaapkamervenster om ons op die regte pad te hou nie?  Persoonlik hoor ek nie 'n stemmetjie of kry 'n visioen oor wat reg en verkeerd is nie.  Of kry ek dit en 'hoor' of 'sien' dit net nie?  Het ons moderne besige lewens ons nie dalk afgestomp vir die dieper dinge nie?   Hoe kan jy dan nou 'n sagte fluistering in die middel van die stad hoor?  Wanneer gaan ons weer leer om stil te raak en biddend te luister - let wel nie bid nie - biddend luister....   Ons is so besig om ons alles by God uit te stort om hom van ons bekommernisse, vrese, vreugdes ens. te vertel dat ons tog vergeet om net te luister....

As ons kan leer om weer te luister, sal ons nie dalk by 'n punt kom waar ons minder 'vreemde paaie' bewandel nie?  Ek weet nie, maar ek glo en solank daar geloof en vertroue is, glo ek dat ek iewers sal kom, miskien weer op die verkeerde pad, maar met die uitpunt voor oë kan ek maar soms so bietjie die pad byster raak...

1 comment:

Muriel said...

Dis 'n baie inspirerende inskrywing, dankie Pikkie.
Ons moet soms stil raak en besin oor die paaie van ons lewens!
Dit sal baie goed gaan met julle! Watch this space!