Vrugte - perskes is my gunsteling!! Gewone perskes, geel perskes, gedroogte perskes enige perskes en kort op hulle hakke is pynappel... 'n Koejawel kan ek nie hanteer nie, selfs die reuk maak my siek! Nog van my gunstelinge is aarbeie (ek is seker dit is wat die engele eet!) en naartjies. Om eerlik te wees, gee my enige vrug buiten natuurlik 'n koejawel en ek is tevrede. Doodtevrede!
Selfs die Bybel praat van vrugte. Vye word orals genoem, moontlik omdat dit so eie aan die streek was. Dan is daar ook natuurlik die Bybelse dieet. Hierdie dieet maak jou nie maer nie, dit maak jou gesond, 'n beter mens, ryker en oor die algemeen, 'n mens so na God se hart. Waarvan praat ek, ek praat van Galasiers 5 se dieet. Daar staan: "Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing." Ek maak dit nie, ek kan dit nie maak nie, nie eers in een van die bogenoemde voldoen ek nie, - Liefde - Ja ek het my eie lief, ek kies vir wie om lief te hê, ek dop die toets... Vreugde - Ja ek is gelukkig, maar sal ek soos Paulus met my voete in houtblokke twaalfuur in die nag vir God kan prys en sing. Ek dop die toets... Vrede - ek soek in alles vrede, maar... ek dop die toets... Geduld - ek vat lank om kwaad te word, maar dan word ek kwaad, nie dat dit noodwendig verkeerd is nie, maar die manier waarop ek kwaad word is verkeerd. Ek dop die toets... Vriendelikheid - Ja, met hierdie een doen ek goed, of doen ek, is ek vriendelik in die oggend as ek opstaan?... Groet ek vreemdes, is ek vriendelik as iemand my onderbreek as ek besig is met iets?... Ek dop die toets... Goedhartigheid - Is ek goedhartig teenoor die man wat met sy bordjie by die robot staan? of teenoor die bedelaar wat elke Dinsdag in my asbliksakke kom krap? Ek dop die toets... Nederigheid - oor die algemeen is ek 'n baie nederige mens, rerig, maar is ek nederig genoeg om 'n geselsie aan te knoop met die vrou wat sit en mandjies vleg op die hoek van die straat of om selfs net goeiemore te sê vir die voddevrou wat haar trollie langs haar slaapboks by die kettingwinkel instoot? Ek dop die toets... Selfbeheersing - Daar wil ek nie eers gaan nie, EK DOP DIE TOETS!
Wat interressant is, is die feit dat daar nie staan "Die vrugte van die Gees nie" maar dat dit in enkelvoud genoem word, VRUG, as jy nie almal het nie, skiet jy in almal tekort. Daar is nie 'n kortpad nie... Dis hoe dit is... Ek dink dit is tyd dat ek op dieet moet gaan.
2 comments:
Ek ook. Baie mooi inskrywing Pikkie!
Ek dink ons almal doen, maar dit is iets waarna ons kan streef en elke dag aan kan werk.
Post a Comment