Tuesday, September 30, 2008

Jou huis is waar jou hart is...

My nuwe tuiste is net dit, 'n stopstraat, oornagplek, noem dit wat jy wil. Dis nie myne, net 'n huurhuis. Ons wag vir ons huis om verkoop te word, sodat ons vir ons weer ons eie kan bymekaarmaak. Uit die aard van die saak kan ek nou nie vir julle die buitekant van iemand anders se huis wys nie, maar hier is so ietsie van die "inside's"...


Dis dit Sitkamer, waar ons bitter min tyd spandeer aangesien ons nie TV mense is nie.






Dis die eetkamer gedoente... Hierdie is 'n 'oopplan' huis. Ek sukkel so bietjie met hierdie konsep maar sal nog daar kom. Die lessenaartjie voor die venster is een wat my pa vir my seuntjie gemaak het en ek is bitter heilig op hom, daarom is hy dan sommer so ingedruk. Ek weier dat hy 'n staanplek in die motorhuis vind.


Hierdie stoel is al vir geslagte in my man se familie. Handgemaak en pragtig...



Van my eie studeerkamer tot ingedruk in 'n hoekie!!!! In die agtergrond is die gang wat na die slaapkamers ly en die kombuis aan die linkerkant.




Oi, hoekom ek ook nou nie kon wag tot die kombuis aan die kant is nie, sal ek nie weet nie, maar daarsy!!! Met 'n GROEN INDUSTRIEELE MAT wat my nog teen die mure gaan uitdryf!!!! Wat die mense besiel het, sal ek nie weet nie!


Poppedyn se kamer...






Met die kot en sy afgesaagde pote!!! Ons kon hom glad nie andersins in die kamer inkry nie... Lees hier as julle nie die storie van die kot ken nie...




Ouboet se kamer.



En ons kamer wat sommer as doekruilstasie en alles moet dien omdat daar eenvoudig net nie plek is vir alles nie.
Nou ja, daar het julle dit... My tydelike koninkryk...


Saturday, September 27, 2008

Die vrug


Vrugte - perskes is my gunsteling!!  Gewone perskes, geel perskes, gedroogte perskes enige perskes en kort op hulle hakke is pynappel...  'n Koejawel kan ek nie hanteer nie, selfs die reuk maak my siek!  Nog van my gunstelinge is aarbeie (ek is seker dit is wat die engele eet!) en naartjies.  Om eerlik te wees, gee my enige vrug buiten natuurlik 'n koejawel en ek is tevrede.  Doodtevrede!  

Selfs die Bybel praat van vrugte.  Vye word orals genoem, moontlik omdat dit so eie aan die streek was.  Dan is daar ook natuurlik die Bybelse dieet.  Hierdie dieet maak jou nie maer nie, dit maak jou gesond, 'n beter mens, ryker en oor die algemeen, 'n mens so na God se hart.  Waarvan praat ek, ek praat van Galasiers 5 se dieet.  Daar staan:  "Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing."  Ek maak dit nie, ek kan dit nie maak nie, nie eers in een van die bogenoemde voldoen ek nie, - Liefde - Ja ek het my eie lief, ek kies vir wie om lief te hê, ek dop die toets...  Vreugde - Ja ek is gelukkig, maar sal ek soos Paulus met my voete in houtblokke twaalfuur in die nag vir God kan prys en sing.  Ek dop die toets...  Vrede - ek soek in alles vrede, maar...  ek dop die toets...   Geduld - ek vat lank om kwaad te word, maar dan word ek kwaad, nie dat dit noodwendig verkeerd is nie, maar die manier waarop ek kwaad word is verkeerd.  Ek dop die toets...   Vriendelikheid - Ja, met hierdie een doen ek goed, of doen ek, is ek vriendelik in die oggend as ek opstaan?... Groet ek vreemdes, is ek vriendelik as iemand my onderbreek as ek besig is met iets?...  Ek dop die toets...   Goedhartigheid - Is ek goedhartig teenoor die man wat met sy bordjie by die robot staan? of teenoor die bedelaar wat elke Dinsdag in my asbliksakke kom krap?  Ek dop die toets...  Nederigheid - oor die algemeen is ek 'n baie nederige mens, rerig, maar is ek nederig genoeg om 'n geselsie aan te knoop met die vrou wat sit en mandjies vleg op die hoek van die straat of om selfs net goeiemore te sê vir die voddevrou wat haar trollie langs haar slaapboks by die kettingwinkel instoot?  Ek dop die toets...  Selfbeheersing - Daar wil ek nie eers gaan nie, EK DOP DIE TOETS!

Wat interressant is, is die feit dat daar nie staan "Die vrugte van die Gees nie"  maar dat dit in enkelvoud genoem word, VRUG, as jy nie almal het nie, skiet jy in almal tekort.  Daar is nie 'n kortpad nie...  Dis hoe dit is...  Ek dink dit is tyd dat ek op dieet moet gaan.  


Thursday, September 25, 2008

Vreemde tye


Soms kom daar vreemde tye in ons elkeen se lewens.  Kruispaaie, stopstrate, selfs robotte en dan moet jy besluite neem...  gaan jy links, regs of reguit aan en in sommige omstandighede sal jy maar jou motortjie in trurat sit en maar teruggaan van waar jy kom?

Persoonlik voel ek dat ek op hierdie stadium van my lewe heeltemal genoeg kruispaaie gehad het.  Genoeg kere het ek my kaduks teen mure vasgeloop, genoeg kere het ek my flenters geval, genoeg kere het ek in gedaanstraat gesit.

In retrospek besef ek dat elke aksie wat ek neem gewoonlik 'n reaksie het.  Ek glo dat 'n mens nogal die negatiewe dinge wat in jou lewe gebeur oor jouself bring.  Ek glo dat dit besluite is wat jy teen God se wil neem is wat jou in die warmwater laat beland.  Dit is wanneer ons die paadjie wil loop wat nie vir ons bedoel is nie, hoe goed ookal jou oorspronklike intensies was, dit was nie wat vir jou bedoel was nie.

Nou hoe weet 'n mens dan ooit of jy die regte besluite neem?  Hoe kan jy ooit seker wees dat jy die 'regte' ding doen?  God gooi tog nie vir ons briefies deur ons slaapkamervenster om ons op die regte pad te hou nie?  Persoonlik hoor ek nie 'n stemmetjie of kry 'n visioen oor wat reg en verkeerd is nie.  Of kry ek dit en 'hoor' of 'sien' dit net nie?  Het ons moderne besige lewens ons nie dalk afgestomp vir die dieper dinge nie?   Hoe kan jy dan nou 'n sagte fluistering in die middel van die stad hoor?  Wanneer gaan ons weer leer om stil te raak en biddend te luister - let wel nie bid nie - biddend luister....   Ons is so besig om ons alles by God uit te stort om hom van ons bekommernisse, vrese, vreugdes ens. te vertel dat ons tog vergeet om net te luister....

As ons kan leer om weer te luister, sal ons nie dalk by 'n punt kom waar ons minder 'vreemde paaie' bewandel nie?  Ek weet nie, maar ek glo en solank daar geloof en vertroue is, glo ek dat ek iewers sal kom, miskien weer op die verkeerde pad, maar met die uitpunt voor oë kan ek maar soms so bietjie die pad byster raak...