Wednesday, August 27, 2008

Geluk

Iets wat ek die afgelope tyd weereens besef het, is dat 'n mens diep gelukkig kan wees ten spyte van alle omstandighede. Geluk is iets wat van binne kom en ek is oortuig dat eksterne omstandighede nie werklik 'n impak op jou geluk kan hê nie. Geluk is meer as 'n emosie of 'n toestand van jou gemoed, dit is diep gewortel in jou menswees. Dit is iets wat van binne moet kom, geen mens kan 'n ander gelukkig maak nie, geen mens kan 'n ander se geluk verseker nie. Elke mens op hierdie aarde moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy eie geluk...

Vir my is geluk om in vrede met jouself te wees. Om te weet wie jy is en wie jy nie wil wees nie, wat jy kan en nie kan doen nie, wat jy wil en nie wil doen nie. Om te weet waartoe jy instaat is en vrede te maak met dit wat jy nie kan doen of bemeester nie. Om te weet met wie jy jouself wil omring en wie jy uit jou lewe wil skuif en dan die moed te hê om dit te doen. Om met oortuiging nee te sê en nie daaroor skuldig te voel nie.

Elke mens het 'n keuse hoe hy of sy hulle lewens wil inrig. Die keuse is joune, maak jou keuse om gelukkig te wees. Maak jou keuse om in vrede met jouself te lewe, maak die keuse om so te leef dat jy as jy in die aand in die bed klim tevrede kan terugleun en sê, dit was die moeite werd.

Gelukkig beteken nie dat jy nie meer negatiewe emosies gaan beleef nie, dit beteken nie dat jy nie hartseer of seergemaak gaan voel nie, dit beteken allermins dat jy 'n 'maklike' lewe gaan hê, dit beteken bloot dat jy die beste sal doen met dit wat vir jou uitgedeel word, dat jy sal opstaan as jy val en sal voortbeur as die lewensstorms om jou slaan....


Saturday, August 23, 2008

Nog net een...


Nog net een slapie dan kom Mynick huistoe! Net nog een nag van rondrol, luister, stres, bangwees en wat nog alles. Ek kan nie wag nie, die volgende vier of vyf dae gaan definitief 'n nagmerrie wees, alles moet reg wees teen Donderdag wanneer die groot trek aanbreek. Ek kan my eie gevoelens nie verstaan nie. Aan die een kant is ek kinderlik opgewonde om weer in 'n regte dorp te bly, om naby die winkels te wees, om naby 'n dokter en apteek te wees. Om vinnig gou 'n brood of 'n stukkie vleis by die naaste Pick en Pay of Woolies te gaan koop en om sommer net in 'n af halfuurtjie deur die klerewinkels te slenter... maar aan die anderkant gaan ek my relatiewe sorgelose, afgesonderde bestaan mis. Ek gaan my huis en my tuin mis. Ek gaan die ruimte en die spasie mis... En ja ek gaan die stofpaaie en slaggate mis... Ek gaan dit mis om vir dae lank in my huisie weg te kruip sonder om te stres oor wat gaan die mense sê, ek gaan die asemrowende natuurskoon van die plantasies mis en ek gaan die sonsopkoms oor die berg van my voorstoep af mis.


Maar heellaas 'n nuwe tydvak in ons lewens het aangebreek. Wat sal wees sal wees en ek is soortvan reg daarvoor. Ek pas gelukkig maklik aan, miskien omdat ek net my eie ding doen, omdat ek my nie veel aan ander so doen en late steur nie en my nie ophou met tydrowende snert nie.

My tyd is beperk en ek sal vanselfsprekend eers vir Telkom moet wag as ons gearriveer het, maar tot dan (as ek nie intussen 'n 'bee' in my 'bonnet' kry om weer te skryf nie), sterkte vir julle en dink aan my in die enorme taak wat op my wag...

Tuesday, August 19, 2008

Wees bitter versigtig!

Hierdie blog is onder konstruksie, wees versigtig vir vlieënde woorde, leestekens, foto's en prentjies!!! Moet nie onderdeur die lere loop nie,


... moenie die swart kat kwaad maak nie...
...en moet asseblief net niks doen wat die bloggie kan jinx nie!!!


Naskrif: Gooi sommer 'n paar korreltjies sout ook oor die linkerskouer net vir ingeval!